Waarom, dan, sal ek, wat onderhewig is aan verganklikheid, bevrediging soek in dìt wat verganklik is?
Sò het die Boeddha homself afgevra voor hy onner die boom gaan sit het. Vanuit ‘n wêreldse oogpunt beskou is dit een van die vroegste aangetekende gevalle van “total cop-out”; maar dis gesien deur die waas van onkunde en eie-belangrikheid.
Oor duisende jare heen het miljoene der miljoene volgelinge waarde gevind in sy leerstellinge. Dit het rigting in hulle lewens gegee, en sin aan hulle bestaan.
Een van die praktyke wat hy voorgestaan het was die sogenaamde kerkhof-meditasies. In Indië in daardie tye het hulle nie lyke begrawe nie, maar die hoër klasse s’n is verbrand terwyl die ontasbares s’n net in die begraafplaas gelos is om natuurlik te vergaan. Die meditasie het behels om daar na die lyke te gaan sit en kyk ten einde ‘n diepe bewustheid van jou eie verganklikheid te ontwikkel. (Die vrees vir spoke het mens se aandag heelwat bekragtig!)
Deesdae, natuurlik, word hierdie meditasie as argaïes gesien, en oor gefrons, en nie beoefen nie. Die hedonistiese-narsistiese “hier-en-nou-en-ek” benadering, wat uitsluitlik klem lê op genot en self-verheerliking, is die onbevraagtekende rigting aanwyser. Enige iets wat net dalk mag wys op verganklikheid moet terstond ontken en verwerp word. Om dit te bepeins is, vanuit die HENEE benadering, ondenkbaar.
Vanoggend is daar ‘n artikel op IOL oor die geraamtes van Rome. Interessant dat die christen monikke ook op ‘n stadium baie aandag aan geraamtes geskenk het.

Ek het al baie hieroor gedink, veral met my lees van Paulo Coelho se boeke, want hy bring dit so mooi uit:
As jy nog nie vrede gemaak het met die feit dat dood jou konstante metgesel is nie, gaan jy nooit werklik lewe nie.
Vrydag laat praat ek met Pieter Woest. Ons bespreek die werk wat ek daar by hom doen en die volgende projekte wat op pad is. Hy vertel van die beeste wat hy op Warmbad gekoop het en kla oor die helse hoë pryse wat hy nou moet betaal.
Saterdag 1200 uur skiet die bliksems hom dood voor sy werkplek.
In hierdie droewe land van ons is die dood meer as `n konstante metgesel. Ons is gyselaars van die sekelman.
Eish man, die sekelman is een ding, die dierlike geweld ‘n anner.
Ekke wil net weet watse tipe hoendertjie is daai?
Dis ‘n veerpoot kapokkie gekruis met ‘n Silky – dus nie die een of die anner nie.
Wonder die kuikenkie: “Ag shit, gaan ek ok eendag soos my ma lyk!!”
Erm… Die hoendertjie is inderdaad uniek hoor!
Maar is die geloof in reinkarnasie wat so sentraal is aan die Buddhistise geloof, of die geloof in enige afterlife, nie ook maar net n` verwerping, n` ontkenning, van ons verganklikheid nie?
Marli, dit hang af van wat mens bedoel met reinkarnasie, en ook watter skool van Boeddhisme mens na verwys.
As mens bedoel dat EK, hierdie persoon, of hierdie SIEL, na die dood van hierdie liggaam weer sal inkarneer in ‘n anner liggaam, dan kan dit ‘n vorm van ontkenning van ons verganklikheid wees. As mens glo JY gaan weer ‘n volgende lewe hê, dan is die dood, verganklikheid, nie so ‘n ernstige saak nie. Vir die grootste gros van leke Boeddhiste is dit waarskynlik hulle siening. Met een belangrike element: in die leerstellinge van Boeddhisme is “dood” een van die drie faktore van lyding. En gesien teen die nimmer-eindigende siklus van dood en geboorte, bied dit nie regtig ‘n vertroosting nie, en word dit nie as sulks deur Boeddhiste gesien nie. Die Tibetaanse tradisie lê sterk klem op hierdie beskouing van reinkarnasie, met ingewikkelde teorie daaragter.
Maar die beginsel in Theravada Boeddhisme is eerder dat daar nie ‘n permanente, onsterflike siel of iets is wat van lewe na lewe spring nie. So niks word in ‘n volgende lewe ge-inkarneer nie. Wat oorgedra word na ‘n volgende bestaan is die patrone en verwantskappe wat in hierdie bestaan deur handeling geskep word. Dink aan snoekerballe, as ‘n onvolkome vergelyking.
In hierdie sin is hierdie lewe van my die enigste wat ek ooit sal hê. Met die toegevoegde verantwoordelikheid dat ek weet dat wat ek nou van hierdie lewe maak, ‘n direkte invloed gaan hê op ‘n volgende lewe, wat nie myne sal wees nie.
Daarom dan die kerkhof meditasies.
Wow. Ek moet dalk meer oplees oor Therevada Boeddhisme. Ek dink antropologie is ons moderne kerkhof meditasies.
Maar dit lyk vir my of die mense wat die grootste invloede gehad het en meestal (in die lang lang termyn in elk geval) positiewe verandering te weeg gebring het, is mense wat voluit leef en “damn the consequenses”. As jy heeltyd net probeer katvoet lewe om niemand in die toekoms e pla nie gaan jy geen lewe hê nie!
Die kerkhof meditasies se doel is spesifiek om ons verknogtheid aan en identifisering met die fisiese liggaam te verbreek. In ‘n weier sin is meeste meditasie tegnieke in die Therevadin tradisie daarop gemik om ons bewustheid van verganklikheid te verskerp – nie net ons eie nie, maar alle vorms van bestaan. Bv. die basiese konsentrasie op asemdoen het ten doel om insig in verganklikheid te kry deur bewustelik te ervaar hoe elke fase van die sikliese proses begin, voortduur, en tot ‘n einde kom.
Groot geeste wat voluit geleef het? Stalin, Hitler, Mao?
Die probleem is een van uiterstes, en moraliteit. Om te lewe sonner om ‘n hel om te gee vir gevolge, behalwe vir jou eie voordeel en genot, is om totaal immoreel te wees. So ‘n benadering ontken die inter-afhanklikheid van ons bestaan. Die anner uiterste is soos jy sê – ‘n beheptheid met die moontlike gevolge van jou dade kan lei tot ‘n verstarring van mens se lewe.
Die triek is om ‘n ewewigtige benadering uit te leef deur bewustelik die uiterstes te vermy.