Die groot stryd
Julie 17, 2009 by Louwie
Terwyl Marli en mnr.muller so lekker in die sand speel: Die meegaande stukkie oor Engels wys duidelik hoe die werklikheid homself uitsorteer terwyl ons sandkastele bou teen die gety.
The curious case of English.
`n Baie beknopte geskiedenis van die Taal deur Bill Bryson (van ‘Notes from a small Island’ faam) verskaf aan ons hierdie vreemde feite.
Ongeveer 1500 jaar gelede het `n Germaanse stam met die naam van Angles die Noordsee oorgesteek en hulle in Engeland gaan vestig waar hulle die Kelte verdring het. Dit is hierdie Germane wat ons uiteindelik Engels gegee het. (die bliksems!). Daar bestaan vandag glo nog mense in die gebied van Schleswig-Holstein waar Duitsland en Denemarke ontmoet, wat `n taal praat wat klink soos die taal wat `n duisend jaar gelede in Engeland gepraat is.
Maar dit was nie maklik nie. Eers tref die Romeinese Tsunami die eilandjie, met die gevolg dat Latyn vir lank die botoon gevoer het. Na 367 jaar van oorheersing vertrek van die Romeine (tussen die jare 410 en 450) en betrek die Saxons en Jutes die eilandjie. `n Klein ou getygolfie in vergelyking met die ander rampe wat toe nog wag, maar met blywende gevolge vir toekomstige Engeland en die res van die wêreld. Die Jutes verdwyn weldra in die ander kulture, maar tussen die Angles en die Saxons kry die ware Engelsman gestalte, alhoewel steeds relatief ongeletterd.
In 597 kom St Augustine met 40 sendelinge op die Eilandjie aan, Kersten die lot en leer hulle lees en skryf. Binne net meer as 100 jaar word Engeland `n sentrum van kultuur en geleerdheid.
Maar niks is ooit so maklik nie. In 793 begin die Vikings met strooptogte teen die kus langs. Dit roof en moor en verkrag dat die stof staan. (klink dit dalk soos die Oosgrens van ouds hier ter plaatse?) Die sporadiese aanvalle duur amper `n 100 jaar.
In 1066 tref die groot Tsunami toe die Noore (Vikings uit Normandy, Frankryk) die eiland met mening binneval en hulle permanent daar vestig. Skielik is die Eiland Franssprekend. Die aristokrate praat Frans terwyl die gepeupel bly Engels praat. Vir 300 jaar is daar toe nie weer `n Engelssprekende Koning op die troon nie. Eers in 1399 word Henry IV weer die eerste koning van die Engelse wat Engels kan praat. Tot 1362 bly die voertaal in die parlement Frans.
Sonder die hulp van wette of drukgroepe of brandstigting en moord, kry Engels gaandeweg die oorhand, soveel so dat die Universiteit van Oxford laat in die 14de eeu `n wet aanvaar wat studente verplig om sommige vakke in Frans te loop om te probeer voorkom dat die taal geheel en al uitsterf op die eiland.
Die res is geskiedenis. Engels, Engels orals Engels wat jy sien en hoor die hele dem wêreld oor!
En wat leer ons uit die relaas?
Ons kan maar ons sandwalletjies bou, ons kan maar ons grafies teen die branders in die sand steek, die gety van die geskiedenis voel vir ons “precious little anxieties” vere. Hy gaan sy gang, hy smyt vreemde bestanddele saam in `n smeltkroes, verhit dit tot kookpunt en lag hom heel moontlik dood vir die resultaat, en vir die mense wat mekaar weereens tot vervelens toe gaan doodmaak oor die heilige artefek wat toegeëien word as myne, wat moet en sal voortbestaan tot aan die einde van dae, (of dan ten minste tot Liewe Jesus weer kom.)
Vreemd, baie vreemd.
Hou nou maar jou Chinese fraseboek byderhand, want hier kom `n Tsunami so groot soos die Sondevloed van ouds.
Posted in Louwie | Tagged Engels, Tsunami | 5 Kommentaar
Leave a Reply
Heel interessant. Ek het so tyd terug ‘n boek getitled Sarum gelees waarin hierdie geskiedenis heel kleurvol uitgebeeld is. Ek het nou ongelukkig vergeet wie die skrywer is.
Terloops, het jy gesien dat ek vir jou huiswerk gegee het?
http://flippiefanus.wordpress.com/2009/07/17/handskrif/
Bedoel meneer nou meneer wil my handskrif sien?
Meneer kan nie regtig ernstig wees nie!
Inderdaad so ernstig soos mens in die woeral kan wees.
@Louwie: Ek hou nie juis van die idee van ‘n “taalstryd” nie, veral nie as koerante se briewekolomme sê dit woed in sekere hoër onderwysomgewings nie.
Tereg was daar in die Suid-Afrikaanse geskiedenis ‘n tydperk toe Afrikaans aspris onderdruk is, maar dis allermins tans die geval.
* * *
Wat die groei van Engels betref, het dit inderdaad saam met oorloë (en bloeitydperke) gepaard gegaan waar die strydende (of handeldrywende) volkere se tale mekaar wedersyds beïnvloed het.
Dié oor-en-weer beïnvloeding duur noodwendig vandag voort, en ja, ek stem saam dat Mandaryns waarskynlik ‘n groot rol gaan begin speel.
* * *
Maar ons kan nie, as Afrikaanssprekendes, werklik dié wedersydse taalbeïnvloed vrees nie… want dis juis hoe Afrikaans ontstaan het – uit ‘n verplatting van Nederlands, met ‘n klompie kombuisslawe, Afrikataliges, Britse en ander wêreldreisigers se tale wat aan die suidpunt van Afrika funksioneel met mekaar vermeng het.
Ek glo nie daar is tans ‘n stryd nie. Alkante moet hul byle begrawe en eerder tyd insit in die ontwikkeling van kreatiewe kurrikula in Afrikaans, ook vir oorsese leerders.
Want Afrikaans en Xhosa en Zoeloe is nasionale bates; dis uniekhede wat die taalverskeidenheid van die wêreld verryk. En ek glo ons is op die punt dat mense uiteindelik aanvaar dat diversiteit voordelig is, en nagestreef behoort te word.
* * *
So, kortom, die gety kan maar kom, ons ken hom die see in die Kaap.
Is so mnr.muller, individuele verskille sal daar altyd wees. Al sou die hele wêreld dus eendag Engels praat sal individuele en streeks verskille altyd daar wees om dinge interessant te hou.
Volgens die koerante en my suster (wat nou in die land van die geel mannetjies woon) leer miljoene der miljoene Chinese nou Engels praat. Dis glo `n hele 5oo miljoen Pond per jaar bedryf daar.
Dalk kan ons maar ons Chinese handboeke weer wegpak en eerder ons Engels opskerp!
Maak nie saak watter taal ons praat nie, solank dit net vrede bewerk is ek heel gelukkig dankie.