`n Week of wat gelede is ek op pad werk toe. Druk die knoppie van my gemotoriseerde hek om uit die erf te ry. Tussen my gespook om die honde dop te hou dat hulle nie uit die erf in die pad voor die verkeer beland nie, en die o-so-stadige pas van my hek, ry ek die ding in sy glory in. Skoon van die spoor af en erg gebuig. Hekpaal uit sy fondament uit geskok
Ek en Ma stoei met die swaar, gebuigde hek om dit uit die pad te kry sodat ons die erf kan verlaat om by die werk te kan kom.
En hier tree die genade in. Buurman van oorkant die pad kom aangedraf en help die ongelukstoneel opruim. Hy vra wat het gebeur, ek sê dit kom nou daarvan as jy `n knertsie teen die koue in jou oggendkoffie te gooi. Sy oë rek en hy sê regtig? en Ma sê moet nie twak praat nie, maar sy sê nie twak nie. Saam sleep ons die hek uit die pad uit en help hy om die gat waar die hek was toe te maak sodat die honde nie kan pad vat nie.
Later die dag gryp ek die groot 10 pond hamer en moker die hek weer in koers in. `n Jong wit bedelaar kom staan en vra so ewe geld. Ek sê ek het niks by my nie en ek is ook nie in `n gee-erige bui nie loop. Hy loop. Ek bedink my en roep hom terug. Ek sê jy werk vandag vir jou geld soos ek dit elke dag doen. Help my om die hek weer op sy spoor staan te maak dan hoop ons Ma is teen daardie tyd weer by die huis en sy het gewoonlik geld aan haar. Hy help en ons kry die hek weer op sy plek.
Ma kom aan net toe die hek staan. Ek sê gee die man sy geld dat hy kan loop. Sy gee en hy loop. Sy sê moes ek hom nie meer gegee het nie, of dink jy twintig was genoeg? Met daardie klein beursietjie van haar wil sy nog eendag alle bedelaars van die strate af kry. As `n junkie `n traan stort oor haar arme baba wat nie melk het nie dan spring die beursie al vanself oop.
Ek sê twintig was te veel, die man het nie eers gesweet nie.
Buurman van 2 huise straat op kom kyk wat aangaan. Hy sê hy gaan haal net gou sy welder en ander gereedskap dan kom help hy want die hek steek nog dikbek vas so halfpad oop en halfpad toe. Buurman korrel hier en klop daar en mompel van swak bestuurders, en uiteindelik loop die hek, steeds stram en halstarrig maar dit maak weer oop en toe.
Buurman wil dit weer van die spoor af haal en laat lê sodat hy die ding mooi reguit kan buig, maar ek sê nee, los dit tot die naweek dan het ek meer tyd, ek moet gaan werk. Buurman sê jy sal daai paal moet oop grou en regop trek en dan weer beton gooi want dis hoekom die hek nog swaar loop, hy sal kom help.
En dis wat dit so nice maak. Al die bure kom aan en simpatiseer en bied hulp aan, behalwe nou die ou Ingelsman van reg oorkant ons wat met bloedjong swart meisies lol.
Die naweek grawe ek en Ma en Hannelie `n gat om die paal. Ons gooi sand en klip en sement op `n hoop en buurman en sy hele gesin van oorkant die pad kom opgewonde help. Hulle is eintlik uitgevat om winkels toe te gaan, maar hy wil help met die betonmengery. Ons is regtig dankbaar. Die kinders lag oor die simpel oom sy eie hek omry. Pa maak hulle boos stil. Jy lag nie oor so iets nie, berispe hy hulle. Ek sê dis OK, mens mag maar lag want dit is simpel om jou eie hek om te ry.
Duidelik het hy nog nooit in sy lewe beton gemeng nie. Hy steek so bolangs met die graaf op die hoop klip rond, al in die rondte. Sy skoon wit klere en wit skoene is vol sement, sy gesig het strepe sement op. Hy slaan in sweet uit en blaas erg van moeg, maar ek wil nie die graaf uit sy hande vat nie want hy kan dalk beledig voel. Hannelie mik om die graaf te vat maar ek keer haar. Sy gaan haal haar eie graaf en ons help die man wat so gaaf is om ons te help om ons eie beton te meng en die paal te plant.
Hy is baie trots op homself toe die werk klaar is en ry net so vuil en vrolik weg winkels toe.
Die volgende naweek kom buurman Phillip weer met sy welder en grinder en hamers om die hek finaal “op te fix”, sê hy. Die ouman se rug is seer en sy kop voel nie lekker nie, maar vandag moet die hek reg. Hy timmer en meet en grind en weld en uiteindelik loop die hek glad en gewillig soos hy veronderstel is om te loop.
Dit is goed om te weet daar is nog goeie mense om jou. Die buurman langs jou, die swart man by die hospitaal wat die wit dwelmverslaafde meisie op sy koste vir rehab stuur, die arbeider by die werk wat bel om te hoor hoe dit met jou gaan want hy het annerdag gesien jy is nie lekker nie en nou het hy twee dae laas van jou gehoor.
Daar is nog hoop vir ons. Net dalk.
http://skalkskryf.wordpress.com/files/2009/06/23062009043.jpg