Sit Elsa by die haarkapster en wag om gekap te word. `n Jong meisie word gekap en gesels met die kapster. By die meisie sien Elsa `n man staan. Die meisie is besig om iets te vertel van haar pa.
Vra Elsa vir haar; “Is jou pa se naam Dr. …….?” en sy noem die naam en van.
“Ja,” sê die meisie, “dit was sy naam. Hy is onlangs oorlede. Hoe het jy geweet dit was my pa?”
“Sommer net,” sê Elsa en lees haar boek.
“Moet nie vir die antie vra nie,” sê die kapster. “Die antie sien goed.”
“Het jy hom geken?” vra die meisie vir Elsa.
“Ja, hy was die staatspatoloog. Hy het soms met die dokter waar ek gewerk het kom gesels.”
“Maar hoe weet jy ek is sy dogter,” vra sy.
“Want hy staan nou hier by jou en hy lyk nog net soos hy gelyk het toe ek hom laas gesien het. Ek neem aan julle het `n baie goeie verhouding gehad, jy en jou pa?”
“Ek was baie lief vir my pa,” snik sy. “En hy was baie lief vir my.” Nog trane.
Daar is lewe na hierdie tranedal. Wat presies dit is weet mens nie, en waarom sommige ouens bly rondhang, bly `n raaisel. Te bang om aan te gaan? Te geheg aan hierdie lewe en “my goeters”, of net besorg oor die wat agter bly soos dalk in die geval?
Of dalk word hulle jou beskerm-engel. Ek glo vas my ouma is een van myne, al kan ek haar nie sien nie. Maar ek het al goed ervaar wat my dit laat glo.
Miskien moet jy en Elsa by mekaar uitkom, sy sal jou dalk kan sê of Ouma by jou is of nie.
`n Vriend van my (geswore ateïs) se pa staan gereeld by hom. Dit het hom nogal geruk toe sy die eerste keer die man aan hom beskryf wat sy sien. Ons het sy pa nooit geken nie. Hy is baie lank gelede dood (vermoor). Selfs tot op hierdie dag nog nooit `n foto van hom gesien nie.
Twee mense wat ook die gawe het van “sien”, het vir my gesê dat ‘n lang, gryskopman agter my staan.
Ek het geen idee wie dit kan wees nie, maar het al te veel noue ontkomings gehad om dit NIE te glo nie…