Willie Burger skryf in ‘By’ van Beeld (7/2/2009) ‘n stuk wat meer relefant en sekerlik meer insiggewend is as ons President se ‘State of the Nation” toespraak nou anderdag.
Hy verwys na die filosoof Andrè Comte-Sponville se beskrywing van ‘n gemeenskap as ‘n groep individue wat deel sonder om te verdeel, en verwys dan terug na ons eie sameleweing hier terplaatse wat meer lyk na ‘n massa, (dalk eerder gebroedsel?) as gemeenskap.
Burger se betoog kom dan daarop neer dat, indien ‘n groep mense gedeelde waardes soos geregtigheid, vryheid van spraak, vryheid van danke, menswaardigheid ens. aanhang, dan ontstaan ‘n gemeenskap, ‘n beskawing. Sonder hierdie geestelike ervaring van gedeelde waardes is die verdeling van gemeenskaplike materiële bates nie moontlik nie en is ‘n ware gemeenskap dus ook nie moontlik nie.
Dit bring ons dan by die groot ideaal van nasiebou hier in hierdie droewige land van ons. Hoe bou jy ‘n gemeenskap ten spyte van al die diversiteit van taal en kleur?
Miskien was Nelson Mandela se idee van ‘n gemeenskap gebou na die model van die groot VSA tog nie verkeerd nie. Een nasie, een vlag, een taal, met die klem op een taal en daarom sy aanslag op skole om te omvorm tot Engels. Dat sy minister toe sy eie agenda gevolg het en sy wrok taan die Afrikaner loop staan en uithaal het was ‘n moerse fout. Die aanslag moes teen alle tale in alle skole gevoer gewees het. Engels eerste taal en dan die oorheersende (moedertaal ) van die bepaalde omgewing as 2de taal.
In dieselfde bylaag as bo genoem, skryf Johann Rossouw onder die titel “Spieëlbeeld van ons dood” oor dieslefde onderwerp, maar vanuit ‘n effens ander perspektief. Johann verwys na die boek ‘Horrelpoot’ van Eben Venter wat handel oor die verval en dood in SA en, al noem hy dit nie by naam nie, is die rede vir die verval en dood juis omdat ons nie daarin kon slaag om ‘n gemeenskap (in Comte-Sponville se sin) tot stand te bring nie, maar eerder verval het in ‘n verbruikers gemeenskap waar materiële gewin die enigste gedeelde waarde was.
As dit ons erns is om hierdie land vir ons nageslag en die se nageslag te bewaar, sal ons ‘n ernstige poging moet aanwend om weg te doen met Zoeloe en Tswana, met Portugees en Afrikaans as primêre entiteite en identiteite bo nasieskap, met ander woorde, bo ‘n Suid Afrikaanse gemeenskap in die ware sin van die woord.
Die vraag is, is ons in Suid Afrika volwasse genoeg om so ‘n radikale verandering te omhels en te laat slaag? Ek dink nie so nie. Ek dink Horrelpoot is dalk ons voorland. (Of Auckland, London, New York?)


Iemand het eenmaal vir my verduidelik wat (een van) die verskil(le) tussen die VSA en Kanada is. In die VSA word allerande kulture in een groot pot gegooi en dan geroer tot een homogene identiteitlose mengsel. In Kanada word elke kultuur die geleentheid gegun om homself uit te leef. Laasgenoemde word op die wetboek beskerm. Ek verkies die Kanadese manier. Miskien sal dit nie in SA werk nie, maar die hele idee dat ek my Afrikaanse kultuur moet prysgee ten gunste van een of ander mengelmoes kultuur staan my nie aan nie. Nee wat, dan gaan ek liewer terug Kanada toe.
Hmm…Ek dink darem nie ons is op pad na die Heart of Darkness nie.
Daar is ‘n drang in die mense van hierdie land, veral die armes, om dit reg te kry. Ek gaan nie vir jou ‘n klomp statistieke gee as bewyse nie – veel beter, teken in op die tydskrif Move! en sy maandelikse sustertydskrif Move! Parent. Lees dit vir ‘n paar maande en dan sê jy my of jy dink die swart gevaar is ons voorland.
Ek het ‘n spesmaas dit kan ons bindende faktor wees. Die soeke na heling.
Hoe dit ookal sy, jy vra ‘n baie geldige vraag. “Identiteit” in Suid-Afrika is ‘n baie interessante begrip…
Goeie inskrywing met geldige vrae.
Persoonlik dink ek dat mens jouself nie blind moet staar tussen die twee opsies (‘n volkome smeltpot of ‘n balkanisering van identiteit nie). Ons leef op die oomblik met die derde opsie, wat ‘n tipe middeweg is (goed uitgebeeld in SA se volkslied). So kan dit nog baie lank aangaan. Maar so het mens maar baie voorbehoude of dit die beste opsie is en vandaar ook jou inskrywing.
Ek dink enersyds die vergelyking met die VSA, asook met Kanada is nie gepas nie. Die historiese raamwerke binne hierdie lande verskil drasties met die van Suid-Afrika. Binne die Afrika-konteks is Namibie (aan die positiewe kant) en Zimbabwe (aan die negatiewe kant) miskien beter vergelykings.
Die feit van die saak is dat die Euro-Afrikaan in Afrika aan die een kant nog nooit in Afrika aanvaar is as ware Afrikaan nie (amper soos wat mens die inversie in sommige Europese lande sien) en aan die ander kant hom/haarself ook selde op grootskaal wou identifiseer as Afrikaan.
Die enigste manier om diep-verdeelde samelewings soos Suid-Afrika op die langtermyn geslaagd kan maak is juis om klem te le op diversiteit en daardie klem te versterk met ‘n sterk federale stelsel waarbinne die devolusie van mag sentraal staan. Dis juis die kuns om binne Suid-Afrika elke volk en afsonderlike identiteit te laat voel asof hulle werklik deel het aan die land deur almal se taal, tradisies ens. te respekteer en op geen wyse te diskrimineer teen enige groepe nie. Dit is, volgens my, definitief die sg. “high road”.
Of Suid-Afrika se toekomstige regeerders die nodige politieke volwassenheid kan toon om so ‘n drastiese aanpassing te maak, dit weet ek nie…
Terloops, ek dink Johan Rossouw maak ‘n baie geldige punt dat jy geen volk kan bou as materiele welvaart die enigste deelwaarde is nie.
Boer, is jou ‘high road’, nie maar bloot was ons gehad het tydens apartheid nie ? Wat nou gemaak met die feit dat kultuur in elk geval gemengd is en voortdurend verryk word en dus verander.
Vir my is die ironie dat Afrikaans juis as ampltelike taal langs ander tale tswana en Zoeloe, erken word en tog kies sommige Afrikaners ironies genoeg tog om hul heenkome in “Engelse lande” te vind, waar hul kinders op die ou end Engels word. Wat weeg die swaarste ? Materiele welvaart.
Nee, Reggie, tydens apartheid is daar ten ergste en met disrespek gediskrimineer teen die oorgrote meerderheid burgers van die land is hulle verseker nie laat voel dat hulle deelgenote is nie.
Die feit dat Afrikaans (en oa ook Venda ens.) ‘n amptelike taal in SA is, is slegs nominaal en nie in praktyk nie. Ek se baie keer vir mense dat die ontnugtering nie so groot is om hoofsaaklik in Engels oor die weg te moet kom nie omdat jy dit te wagte is dat Koreane nie Afrikaans praat nie.
Die ontnugtering in SA is egter groot, want mens sou verwag, synde dat jou moedertaal Afrikaans is EN ‘n amptelike taal, jy daarmee oor die weg sal kan kom sonder die gebruik van Engels. Dis duidelik dat SA se “11 amptelike tale” in die praktyk bloot op Engels neerkom.
Ek het baie groot respek vir ‘n land soos Namibie wat nie die fasade van “11 amptelike tale” voorhou nie, maar bloot Engels die enigste amptelike taal gemaak het en basta. Ironies genoeg hoor ek gewoonlik meer Afrikaans onder alle bevolkingsgroepe as ek Namibie besoek, as wat ek in Suid-Afrika hoor.
Voorwaar ‘n hutspot met vele moontlikhede waarvan Horrelpoot maar een is.
Oppervlakkig gesien is Suid Afrika die spiëelbeeld van Amerika waar wit die meerderheid is en dus die domminante kultuur op ander afdwing, met anderskleuriges ‘n klein minderheid. (Vir nog so een geslag van hier af hoor ek).
In teenstelling daarmee is swart by ons die meerderheid maar met ‘n verskeidenheid van kulture ook onder hulle, en wit en anderskleuriges ‘n baie klein minderheid.
Verdeel en heers was in die ou bedeling die modus operandi, dus is klem op etnisiteit geplaas wat bedoel was om Zoeloe teen Xhosa teen Tswana teen Venda af te speel.
Mandela het die ding reg gelees, dink ek, en wou een swart volk met een taal (Engels) bewerkstellig om ‘n Hutsi vs Tutsi ding hier te voorkom. Om verstaanbare redes kon hy nie een van die plaaslike tale (Zoeloe of wat ook al) gebruik as bindende faktor nie want dit sou moord en bloedvergieting afgee.
Ek stem saam met BoerinB dat die 11 taal ding ‘n onding net in naam is. Laat dit een taal wees en basta. Dis net ons ouer garde wat nog sukkel met ons “is” en “are”, die kinders, swart en wit het geen probleem oor watter taal gebruik word nie, solank hulle mekaar kan verstaan.
Soos Reggie sê, dinge verander, kulture ook. Ons kinders is skaam vir volkspele, en swart kinders is weer skaam vir baie van hulle tradisionele gebruike. Tussen hulle sal hulle die ding uitwerk. Wat ons hulle moet leer is respek, verdraagsaamheid, liefde vir die lewe en al die dinge waarvan Johann Resouuw praat. Dis wat Amerika groot gemaak het, maar dit is ook hulle arrogansie en kleinering van ander kulture wat hulle die muishond van die wêreld gemaak het. Daardie dodelike Nasionalisme wat ook amper ons ondergang bewerk het.
Ek dink nie Amerika is ‘n identiteitlose hutspot soos Flippiefanus dit sien nie. Daar doen Jood nog sy eie ding en Italianer syne (al is dit net mafia bedrywe!), en Grieke hulle eie ding, maar by die huis. Selfs Indiane (nie ‘n PR term nie!) word toegelaat om hulle ding te doen. En mense huil van blydskap as hulle burgerskap kry. En so het die VSA ‘n wêreld leier geword.
Maar dan is ek natuurlik 99% ten gunste van globalisering. Een wêreld, een mensdom. Ek glo dit kan die moontlikheid van oorlog drasties veminder, net soos ek glo dat een taal, een vlag, een nasie hier ‘n herhaling van die Afrika slagting kan voorkom.
Wie ek uiteindelik is koppel ek nie aan ‘n taal of velkleur nie. Dit is eksterne faktore en, alhoewel dit ‘n rol speel in my vorming, is dit bloot toevallig. Vir my gaan dit oor die hoër dinge in die lewe en die kan jy leef en beleef ongeag watter taal jy praat of in watter land jy woon, of wat die kleur van jou vel is.
Ek hou van Loutjie se comments
Ek het geen probleem dat mense hul eie ding doen nie- dit moet net nie afgedwing word, van bo-af nie dat ons ‘apart’ moet wees, of dat ons in een pot ingedruk moet word nie.
Die ander ding is dit: ons is onrealisties as ons dink dat die dinge na 15 jaar mos afgehandel is. Dit is nie. Hollanders en Jode het nog steeds ‘n ‘gevoel’ oor die Duitsers; dekades na die burgerregte stryd in die VSA, word Obama as president bevestig ( en hulle is nog steeds aan’t worstel) Hoekom sal ons na een en ‘n halwe dekade geen probleme ervaar nie. Dit is my ‘gripe’ met mense wat nou Suid Afrika verag in haar worsteling met ons geskiedenis. Vir vele moet ons bloot vergeet en aanbeweeg, want eintlik het daar niks gebeur 20-30 jaar gelede nie.
Ek is nie skaam vir volkspele nie.
Louwie, ek weet nie of jy al vir ‘n ruk lank in die buiteland gebly het nie. Toe ek aanvanklik Kanada toe is het ek nes jy gevoel. Ek het geen saak gehad met my taal of kultuur nie. Maar dit het nie lank gevat nie voordat ek besef het net hoe belangrik ‘n ou se kultuur en herkoms en, in ons geval, taal is nie. Dit is dit wat jou ‘n identiteit gee. Weet jy, as jy daar in Toronto deur die strate loop (nou praat ek nie van as jy daar vakansie hou nie, maar as jy daar leef en werk) dan voel jy nes ‘n stukkie statistiek. Dis asof jy geen betekenis op hierdie aarde het nie. Dis dan wanneer jy vaskleef aan dit wat jy is. Vandag is my taal en kultuur vir my belangrik. Maak nie saak of ek dalk eendag weer in Kanada sal gaan bly nie, ek weet ek is die (ex)-SAner. Hier in SA is dit nog belangriker dat ons ons kultuur en taal bewaar, want daar is geen ander plek op aarde waar dit bewaar gaan word nie.
Johan Swarts ja, dit is moontlik in die eerste plek omdat jou naam Johan Swarts is en in die tweede plek omdat jy nie in die groep van 10 jaar oud tot 20 jaar oud val nie.
Flippiefanus nee, ek was nog selde in die buiteland, wat nog van daar te gebly en werk het!
Ek kan op ‘n manier jou punt insien, maar dan vra ek myself af; hoe moes die Franse en Hollanders en wie nog almal wat destyds hier aan die suidpunt van Afrika aangeland het nie gevoel het nie? Ontwortel soos hulle was maar met ‘n wil om te oorleef. Toe word hulle saam in ‘n pot gegooi, geroer en verloor hulle identiteit? En daar word ‘n nuwe taal, ‘n nuwe volk met ‘n nuwe unieke identiteit gevorm!
Wat sou gebeur het as elkeen verbete aan sy eie identiteit bly klou het?
My vraag is dan nou, wat het aan daardie individue verander toe hulle versmelt het in die nuwe gemeenskap? Was hulle toe as individue slegter mense as voorheen? Was hulle kinders vir een of ander rede geestelik slegter daaraan toe as hulle ouers, of as hulle vorige volksgenote?
Volke, tale, en kulture kom en gaan. Die ou en magtige Romeine is weg, Toltek, Astek en Fillistyn bestaan nie meer nie. Hulle het elkeen ‘n spoor gelaat, maar niemand mis hulle meer nie.
Gaan iemand die Afrikaner, Portugees, Griek of Venda oor vyf of seshonderd jaar mis?
Louwie, dis nie die mense wat emmigreer wat hul identiteit prysgee nie. Dis hul kinders en die se kinders. Dis ‘n stelselmatige proses van assimulasie. As dit nie daarvoor was nie sou Kanada nie immigrante toegelaat het nie. Hulle weet dat dit slegs die eerste generasie immigrante is wat nog aan hulle identiteit vaskleef. Tweede generasie sal miskien nog iets van die taal en kultuur oorhou, maar van die derde generasie af is daar feitlik niks meer van die oorspronklike kultuur oor nie. (Met sommige kulture soos die Chinese en Indiers werk dit anders.) Dis juis hoekom ek se^ dat dit so belangrik is dat die Afrikaanse kultuur in SA beskerm moet word, want nerens anders in die wereld gaan dit behoue bly nie.
Dis waar dat kulture met verloop van tyd verander en verdwyn, maar my aarde ons Afrikaanse kultuur is skaars meer as ‘n honderd jaar oud. Die Romeinse kultuur het vir omtrent ‘n duisend jaar bestaan. Sekere elemente daarvan leef vandag nog voort.
Die Afrikaner volk is seker die heel jongste nasie op aarde – ‘n brose baba wat deur omstandighede gedwing word om te veg vir oorlewing, net soos individue. As sulks is die oproep om ons kultuur gestand te hou heeltemal verstaanbaar.
Ek vind dit egter interessant dat ons nasie se fondamente gelê is deur individue wat self hulle eie kultuur afgesweer het ten einde in nuwe een te skep. Amper iets soos ‘n baba wat gebore word deur afgeskei te word van die moeder.
Maar die baba moet groot word. Huidige toestande van globalisering plaas onsettende druk op die baba, en die hedendaagse tydstempo waar alles vinniger en vinniger gebeur, laat geen ruimte vir ‘n rustige pas van kindwees nie.
Sommige Afrikaners se verbete vasklou aan hulle kultuur is verstaanbaar, maar ongelukkig sal dit net na stagnasie lei. Hulle help so die dood van daardie kultuur aan. As evolusie ons enige iets kan leer, is dit dat voortbestaan net moontlik is deur die proses van aanpassing wat oor geslagte heen deurgevoer word.
Die Afrikaner kultuur, soos dit vandag is, is mooi en goed. Ons kan dit waardeer en geniet. Maar as dit nie kan aanpas by veranderende omstandighede nie, sal dit verdwyn- en goed so.
Ek stem saam dat mens nie kop-in-die-grond kan leef en die wereld om jou moet ontken nie. Dan stagneer jy verseker. Ek is egter ook onseker oor die bedoeling dat die kultuur moet aanpas by “veranderde omstandighede”. Wat behels dit? Om jou kultuur te bewaar en te leef is vir my geensins in stryd met globalisering of enige ander huidige tendense nie. Voorbeelde sien mens die wereld vol – veral in die VSA. Ek dink maar net dat die Afrikaner, sy taal, sy geskiedenis ens. so gekontamineer en gestigmatiseer is deur apartheid, dat baie Afrikaners eerder wil wegstuur van enige klem op die Afrikaner as ‘n onafhanklike identiteit. Dit is jammer, want die Afrikaner was, is en sal altyd soveel meer wees as apartheid.
Dit is ‘n groot waarheid BoerinB, die Afrikaner was nog altyd ‘n besonderse klomp mense, halstarrig, dwars maar sterk op ‘n mooier manier as wat die res van die wêreld aan ons dink.
Dit is ook so dat baie Afrikaners vandag skaam is om Afrikaans te wees weens apartheid, dink maar aan ons vriend Max Dupreez wat nie ‘n geleentheid laat verbygaan om die Afrikaner te verguis nie.
Vir my en Joh gaan dit egter nie om die Afrikaner as skurk wat verdien om onder te gaan nie, maar eerder omdat dit vir ons by uitstek om die individu gaan. Ons is nie tropgebonde mense nie en stuur weg van die oorweldigende gepeupel af waar ons kan. Ek self is oortuig daarvan dat dit briljante individue is, of hulle nou Afrikaans, Duits, Russies ef Shangaans praat, wat die wêreld op sy koers stuur.
Ons verwag van die individu om homself as volledig mens te handhaaf tenspyte van sy kultuur, daarom ons standpunt dat, al gaan ‘n kultuur ten gronde, die mensdom sal voortbeur op sy weg.