Maandagaand het ek by Louwie en Elsa oorgeslaap. Ons sien mekaar nie baie gereeld so aangesig-tot-aangesig nie, met dat ek hier naby Mooinooi in die bos sit, en hulle daar in Kempton. Maar so nou en dan moet ek hulle besigheid se boeke gaan kook (vir BTW en anner redes), dan kry ons sommer ook ‘n lekker gesels in.
So gesels ons toe onner annere oor die bloggery, wat nog maar ‘n nuwe ding vir ons is. Dit herinner my toe aan kleintyd, daar op Loslap: hoe ons soms by oom Jarrie en tan Hannie gaan kuier het. Paps, Mams en ek. Op daardie stadium was ek seker die enigste een nog op laerskool, en in die huis. Louwie en die anner moes toe al op koshuis in die hoërskool gewees het, want ek onthou nie dat hulle die ondervinding gedeel het nie.
Vroegaand, net na aandete, het ons oorgery na oom Jarrie se plaas toe. Mams en tan Hannie het hulle dan om die tafel in die kombuis sit gemaak, en gesels dat die biesies bewe.
Paps en oom Jarrie het hulle in die sitkamer gemaklik gaan maak, en rustig met pyp en koffie, so voel-voel ’n gesprek begin. Soms eers in stilte saam na die 7-uur nuus op die radio geluister. So nou en dan het die praktiese dinge van boer die gesprekke ingesluip, maar meeste van die tyd het hulle of oor politiek , of oor godsdiens gesels. Ek het so tussen die twee gesprekke rondgedwaal, soms in verwondering oor die onverstaanbare dinge waaroor hulle gepraat het, en anner kere moes ek in die sonkamer gaan sit om huiswerk te doen. Teen laataand kon die mans se gesprekke heel driftig word; of hulle nou saamgestem het, of verskil het! Na ‘n laaste koffie was dit dan heerlik om die vars naglug in te asem en op jou vel te voel wanner ons koers gekies het huistoe.
Ek het ook onthou hoe Kleinneef, wat by die koöperasie se plaaslike graandepot gewerk het, en sy vrou Jantjie, gereeld op Sondagmiddae by ons kom kuier het. Weereens het die gesprekke meestal oor godsdiens en politiek gegaan, terwyl ons kinners soetriet en waatlemoen gesit en eet het. So ook het Oom Dawid en tan Siena vanuit die dorp plaas toe gekom vir ‘n lekker kuiertjie en diep gesprekke oor naweke.
Dan was daar die “Nietverdient” gesprekke, gewoonlik net tussen ons familie. Nietverdient is ‘n plek noord van Zeerust, naby die Botswana grens. Dit het destyds bestaan uit ‘n polisiestasie, ‘n myl of twee van niks, dan ‘n garage, dan weer myle niks, dan ‘n winkel, dan weer myle niks, dan ‘n kerk. “Nietverdient” gesprekke was dus ‘n paar woorde, dan ‘n lang stilte, weer ‘n paar woorde, dan lang stilte, dan ….
So, toe kom ek en Louwie tot die slotsom dat die bloggery ‘n plaasvervanger is vir daardie tipe van gesprekke, wat meestal uit ons lewens vedwyn het. Alhoewel die hedendaagse tegnologie ons dryf om al vinniger te jaag en minder diep sosiale omgang te hê, het dit ons darem ook ‘n manier gegee om sulke gesprekke te voer, al is dit nie aangesig-tot-aangesig nie.
Dié idee laat my nou besef hoe belangrik bloggery is as ‘n vorm van gesprekvoering, en hoe noodsaaklik dit is dat ons dit met dieselfde respek en goedhartigheid moet doen, asof ons wel fisies teenwoordig is.
Stories uit die oue tyd. Die storie word vertel dat ‘n buurman eendag by die oom en antie waar julle so gekuier het, aangekom het en ‘n helse geraas uit die slaapkamer gehoor het. By nader ondersoek vind die buurman toe die tante, ‘n gewigtige mens, met ‘n besemstok onder die bed aan’t rondslaan terwyl sy skreeu “kom uit daar onder die katel jou @*&xx@** en vat jou pak soos ‘n &*##@@ man”. En onder die bed uit kerm die oom; “eina liefie jy maak my seer. Los nou die stok en laat ons praat!”
‘n Goeie man gewees, die oom. Nou ook saliger.