Nou ja, laat ek die bottel rooiwyn nader trek voor ons hierdie gewigtige sake aanpak.. Robertson Winery, Ruby Cabernet 2008 is al wat ek op die oomblik het. Was 2008 ‘n goeie oesjaar emil? Ek ken my wyne so goed as wat ek my Bybel ken. Moes seker die bottel nog ‘n paar jaar laat verouder het? Kan ‘n mens goedkoop wyn laat verouder? Het ‘n paar ou Bybels hier, en ‘n Koran, maar dit wil nie beter word soos dit ouer word nie.
Sal maar by koffie hou vanaand. Mens moet die gewigtige sake nugter aanpak.
Nee flippiefanus, die storie is nie gebasseer op iets uit die Bybel nie, nie eers as jy die Bybel oppervlakkig interpreteer nie. Baie kerkmense wat ek ken sal dit inderwaarheid as lasterlik beskou.
Rosalind, soos ek dit verstaan is panteisme kortweg die geloof dat God in bv. ‘n boomstomp is en jy kan dus tot die boomstomp of ‘n klip of ‘n dier bid want dit is god. Panenteisme daarenteen sê dat God in alles teenwoordig is. God is alles en alles is God. (Wees in My soos Ek ook in julle is ens.) Eensydig, anekdoties van iets? Eina.
Ek dink die Hitler ding het ons so effe ontspoor. Kom ons fokus op die kern van die anekdotiese, eensydige opinie van die iets.
Jy hoor die vliegtuig wat oor jou kop gaan emil. Stel jou nou voor jy is ‘n alwetende, alomteenwoordige, almagtige en verskriklik liefdevolle god. Jy weet wat in die vliegtuig is want jy is alwetend. Jy weet waarheen dit op pad is en watter gemors dit gaan veroorsaak en jy gaan daar wees want jy is alomteenwoordig. En nou is jy so liefdevol dat jy kan bars. Wat gaan jy doen? Wat, volgens ons eenvoudige, dom menslike moraliteit is jy veronderstel om te doen? Gaan jy toekyk en die pragtige, kokende mushroom bewonder, of gaan jy jou almagtige hand opsteek en die vliegtuig uit die lug uit vat, opfrommel en in die snippermandjie gooi?
Die storie (nie ‘n anekdote nie Rosalind!) word vertel van Jode in ‘n konsentrasiekamp in die 2de WO. Hulle het ‘n formele hofsaak aanhangig gemaak teen hulle almagtige, alwetende, alomteenwoordige God. Hulle het Hom aangekla van volksmoord. Aan die einde van die saak het hulle Hom skuldig bevind soos aangekla maar voor hulle Hom kon vonnis was dit tyd vir hulle daaglikse gebed. Die hofsaak is toe onderbreek en hulle het gaan bid tot die God wat hulle so pas skuldig bevind het aan die uitwissing van Sy eie uitverkore volk. Daar is toe nooit ‘n vonnis opgelê nie.
In hierdie eensydige, anekdotiese opinie van iets gaan dit nie oor Hitler of enige moroon wat hom skuldig maak, gemaak het of nog gaan maak aan koelbloedige moord op ‘n medemens nie. In hierdie skrywe probeer ek my bes om God onskuldig te maak aan alle gruwels teen die mensdom, teen alle dinge wat ooit was en sal wees tot in die ewigheid.
Ek stem heelhartig saam met alles wat Die Piesangverkoper sê. Rykdom, mag, geweld en selfs nie al die kennis in die wêreld kan jou gelukkig maak nie. Dit is egter nie net Hitler wat sy lewe lank ongelukkig was nie. Iemand het iewers geskryf “most people live their lives in quiet desperation” Sartre dalk?
Miskien probeer ek desperaat om ontslae te raak van die ou geïndoktrineerde Christen beeld van Die Ou Man met die wit baard wat iewers in die hemel op sy troon sit met ‘n donderblits in die een hand en ‘n sambok in die ander en wat veronderstel is om goed te wees maar ooglopend nie is nie.
Ek probeer ‘n godsbegrip daarstel waar God nie in die beskuldigingsbank hoef te staan nie, maar wat vir my ‘n aanvaarbare oplossing bied vir die onverklaarbare.
Miskien sal die laaste aflewering ‘n katarsis bewerkstellig.
Miskien lê die oplossing by die Dansende Wu Li Meesters?
Ek weet flippiefanus, “ons ken ten dele en eendag van aangesig tot aangesig” en so aan, maar dit maak my rasend, net soos die ‘inherente boosheid’ van die mens “in sonde ontvang en gebore.” Dit maak God impotent.
Die antwoord op hierdie inskrywing van jou Louwie het ek reeds geskryf — ‘n inskrywing getitled: Die Gebrokenheid. Ek wil jou vra dat jy asseblief daar sal gaan lees en dan vir my daarop reageer. Daar spreek ek juis hierdie idee van ‘n hofsaak teen God aan.
“En nou is jy so liefdevol dat jy kan bars.” Versigtig! God se liefde beteken nie dat daar nie slegte dinge in die wereld gebeur nie. Sy liefde het ‘n ewigheidsuitkyk. Dit sien dinge raak wat ons te kortsigtig is om te kan raaksien.
Dis ‘n moeilik onderwerp hierdie. Ek sal moet gaan dink en miskien weer daaroor ‘n inskrywing maak.
Dankie vir ‘n peinsende inskrywing, ek het dit geniet om dit te lees. Dis irriterend om in ‘n dowwe spiegel te moet staar.
Inderdaad stof tot nadenke.
Henry David Thoreau: “The mass of men lead lives of quiet desperation. What is called resignation is confirmed desperation.”
Ek dink jy sal die grote Thoreau nogal geniet.
Ek het die lees ook geniet. My stilswye is bloot bepeinsing.