Peet Priester
Saterdag vir Saterdag het Rambo na stampkar wedrenne gaan kyk. Hy kon liries raak oor die gestamp en die stof en olie, kon elke kar haarfyn beskryf; enjingrote en maak, kraglewering en torque, 0 tot 100 in soveel sekondes en wie die bestuurders was.
Soms het hy Blondie saam gesleep en sy het haar dit laat welgeval.
Rambo se ma het vir hom ‘n tweedehandse Mini Cooper gekoop, jakaranda pienk/pers van kleur met blink ‘mags’ en woeste breë bande. Met verloop van tyd het hy die kar ‘opgesoup’ met dubbelkeel vergassers, ‘n ‘racing cam’ en ‘n wit langhaar bekleedsel op die ‘dash board’.
Neels die nihilis het na Rambo verwys as Jesus Christ Super Star en gesê hy gaan nog eendag opvaar na die hemel in sy chariot of fire. Mans wat opgewonde raak oor die reuk van gebrande olie het ‘n kort “dip stick” en drie breinselle, het hy altyd gesê. Hy het nie van Rambo gehou nie.
In daardie tyd het die Karate Kid films begin wys en Rambo was begeesterd. Hy het onmiddellik begin om karate klasse te loop en tot vervelens toe in die wind loop en skop en links en regs konynkappe uitgedeel. Rambo was ‘n pyn in die gat.
Die Waarnemer het vir hom ‘n ou Harley Davidson motorfiets by ‘n weermag veiling gekoop. Hy het vir hom ‘n groot rugsak en ‘n een-man tent gekoop en naweke, as hy geld gehad het, die pad gevat en die wêreld gaan verken.
Een Woensdag middag, toe hy van die atletiekveld af terug draf na sy kamer toe, het die Burgemeester se lang, slap, swart Mercedes met die getinte vensters langs hom stilgehou. Die agterste deur het oop gegaan en die jonge dogter van die Burgemeester het hom liefies genooi om saam te ry. Die Waarnemer het verbaas gemaak soos sy gevra het al het hy haar van geen kant af geken nie. Hy het geskat sy kon miskien vyftien of, op die meeste sestien jaar oud wees. Sy het opgewek gesels asof sy hom al jare lank ken. Sy het hom op die atletiekveld sien oefen (waar sy self ook besig was om te oefen) en het gehou van wat sy sien, vertel sy sonder om te blik of te bloos. Daar is die naweek ‘n onthaal by hulle huis en sy wil hê hy moet haar date wees vir die aand.
Die Waarnemer was uit die veld geslaan. Die kind was mooi, vrek mooi. Lang donker hare, melkwit vel, slank van lyf met groot donker oë. Burgemeesters en hulle kinders en hulle onthale was nie sy ‘scene’ nie. Die aandag van die mooie kind het sy ego erg gevlei, maar hy het vasgekeer en benoud gevoel. Hy wou wegkom uit die vangstrik uit en gou ook. Sy hormoon oorstroomde brein wou egter nie saamwerk nie en geen verskoning het hulle self vrywillig aangemeld nie. Baie ander opwindende voorstelle het egter kom toustaan om gehoor te word.
Hy was verlief op Blondie, al het hy nog nie die moed gehad om sy liefde aan haar te bely nie. Hy wou nie met ander meisies uitgaan nie. Hy het maar die lamlendige verskoning gebruik dat hy reeds ‘n ander afspraak vir Saterdag het en dus nie by haar partytjie sou kon wees nie. Sy het hom duidelik nie geglo nie, haar hand op sy been gesit en gesê hy moet daaroor gaan dink en haar die volgende dag laat weet. Sy het vir hom geglimlag en gesê sy kan hom belowe dat die aand vir hom die moeite werd sal wees. Sy hormone het geskreeu yes, yes en sy het gesê sy sal die Limo Saterdag stuur om hom te kom haal, sou hy van plan verander. Die onthaal sal formeel wees, hy moet ‘n tuxedo en strikdas dra, sê sy terloops toe hulle voor sy blyplek stop.
Toe sy wegry het hy onthou dat hy nooit vir haar gesê het waar hy bly nie. Dit was vir hom vreemd, baie vreemd. Hy besit ook nie eers ‘n pak klere nie, wat nog van ‘n tuxedo.
In sy kamer, op sy bed het ‘n tuxedo en strikdas vir hom lê en wag toe hy instap. Ja wel, het hy gedink, velskoene sal mooi daarby gaan, dis al wat hy het. Toe kry hy die blink paar swart skoene onder die bed, die regte nommer ook nog. Die Waarnemer was verbaas, uiters verbaas.
Soos gewoonlik het hy nie geweet wat om van die gebeure te dink nie. Wat om te doen het hy nog minder geweet. Hy gaan sit buite op die stoeptrappie om te dink. Miskien, dink hy, moet hy na Blondie toe ry en vir haar gaan vertel van die vreemde gebeure. Miskien het sy ‘n oplossing. Net toe kom Peet Priester op sy dikwiel fiets daar verby gery.
Peet Priester het pas by Rambo se afdeling begin werk. ‘n Jong man vars van die plaas af uit ‘n ultra konserwatiewe Boere gesin. Die Waarnemer noem hom Peet Priester, of die Priester omdat hy so tydig en ontydig uit die Bybel uit aanhaal en elke Sondag twee maal kerk toegaan. Peet Priester is `n man met ernstige fascistiese neigings. Hy glo seks is sonde, die vrou se plek is kaalvoet voor die stoof in die kombuis, moet op haar rug neerslaan met beentjies oop op bevel en sy mag nooit ooit `n langbroek dra nie want dit is uitlokkend. Verder glo hy dat multi-nasionale maatskappye vir hulle werknemers, aandeelhouers en vir die gepeupel blatant mag lieg as dit hulle winsgewendheid sal verbeter. Hy hou ook nie van swartmense, katolieke of kommuniste nie.
‘n Plan neem stadig in Die Waarnemer se kop vorm aan. Die Priester is net so groot van postuur as hy self en ook nie onaansienlik nie. Die Priester is ‘n baie sosiale man en hoe belangriker die mense by die onthaal, hoe meer geniet hy dit want dan kan hy vir almal gaan vertel watter groot en belangrike mense sy vriende is, mense wat hy dan altyd op hulle voorname noem. Nie Dokter of Dominee so en so nie, maar sommer ou Sarel en ou Herman.
Toe Peet Priester dus weer op sy pad terug by Die Waarnemer verby ry, keer hy hom voor en vertel hom van die onthaal by die Burgemeester se huis, dat hy uitgenooi is, maar dat hy dit, weens omstandighede buite sy beheer nie sal kan bywoon nie. Hy vra die Priester of hy hom nie die vreeslike groot guns sal doen om in sy plek die onthaal te gaan bywoon nie. Hy vertel hom van die mooi dogter, van die ander baie belangrike mense wat daar gaan wees en van die chauffeur met die lang, slap ampsmotor wat hom sal kom haal. As finale lokaas gaan wys hy hom die tuxedo, hemp en skoene, hy weet dat die Priester mal is daaroor om die flambojante heer te speel. Die priester kom uit ‘n arm huis, sy klere is meestal tweedehands, die geleentheid om in so ‘n uitrusting gesien te word sal hy nie laat verby gaan nie. Die pak klere waarmee hy Sondae kerk toe gaan is al erg blink geslyt by die sitvlak en die baadjie gestop by die elmboë.
Die strategie werk uitstekend. Die Priester kan sy opgewondenheid beswaarlik beteuel. Hy pas daar en dan die uitrusting aan, bewonder homself in die spieël, pronk op en af. Hy is erg beïndruk met wat hy sien.
Hy sal Saterdag die klere kom aantrek, ‘n sonbril opsit en op die stoep staan en wag vir die limousine om hom te kom oplaai. By die onthaal sal hy persoonlik by die Burgemeester gaan verskoning maak vir sy vriend se afwesigheid weens ernstige siekte by die huis. Die mooie dogter sal hy van haar fraaie voetjies af charm, hy voorsien geen probleem daar nie. Peet Priester was nie regtig ‘n beskeie mens nie.
Met die probleem van die onthaal nou opgeklaar, besluit Die Waarnemer om by Blondie te gaan koffie drink. Hy het nog nooit by haar woonstel vir haar gaan kuier nie, nie dat sy hom nog nooit genooi het nie. Maar elke keer het sy moed hom begewe en het hy ‘n verskoning uitgedink. Net die gedagte daaraan om alleen saam met haar in haar woonstel te wees het sy bene lam gemaak en hom in sweet laat uitslaan.
Vanaand het hy geselskap nodig. Die ding van die meisiekind het hom ontstel en hy wou met iemand praat. Hy het huiwerig aan die deur geklop en gewag. Miskien moes hy liewer eers gebel het, sê nou net sy het iemand anders by haar. Dit kan ‘n erge verleentheid vir hulle altwee wees, dink hy toe. Sy bene was reeds met hom op pad terug na sy motorfiets toe, toe sy die deur oopmaak.
“Dis ‘n verrassing,” het sy gesê en hom omhels en ‘n soen op die mond gegee asof dit die normaalste ding onder die son was. Hy het soos gewoonlik bloed rooi gebloos. Sy het vir hom gelag en hom aan die hand die woonstel in gesleep. Hy is formeel aan haar dogter Carmen voorgestel, ‘n pragtige klein blondekop kind, vier jaar oud en net so bekkig en voortvarend soos haar ma. Sy het hom dadelik aan die hand gevat en beveel om saam met haar en haar poppe tee te drink terwyl haar ma vir hulle kos maak. Hy was bly oor die kind. Haar spontane gebabbel het die spanning gebreek en die drie van hulle het gelag en gesels en pannekoek geëet tot Carmen op sy skoot aan die slaap geraak het.
Blondie het die kind in die bed gaan sit en toe vir hulle elkeen ‘n glas wyn geskink.
“Jy is goed met kinders,” het sy opgemerk toe sy langs hom op die rusbank gaan sit.
“Sy is pragtig,” het hy effens verleë geskerm.
Sy het stil na hom gekyk. “Jy moes lankal kom kuier het, ek het vir jou gewag,” sê sy sag.
Omdat hy nie weet wat om te sê nie, vertel hy haar toe die hele storie van die Burgemeester se dogter, die onthaal en Peet Priester. Sy het vir hom gelag en hom geterg oor hy weghardloop vir die bog kind. Sy het vir hulle nog wyn ingegooi, sy hand gevat en hom sag op die wang gesoen. Hy het haar nader getrek en op die mond gesoen en sy het hom terug gesoen, sag en teer en wonderlik, en hy het sterretjies gesien en hemelse musiek gehoor en vergeet om asem te haal.
Toe stoot sy hom saggies weg en sê sy moet hom eers van Carmen vertel. Sy wil hê hy moet alles weet voor hy hom in iets begewe waarvoor hy dalk nie kans sien nie.
Carmen, vertel sy, is die kind van ‘n jong mediese dokter. Hulle het ‘n verhouding gehad, alhoewel sy ma nie die verhouding goedgekeur het nie. Boetie kon na haar mening baie beter doen. Op ‘n loom Sondag middag, terwyl die ma in haar kamer besig was met Bybelstudie, het dinge in die sitkamer op die rusbank hand uitgeruk. Drie maande later het sy hom vertel dat sy verwag. Boetie het vir Ma vertel en Ma was briesend oor die hoer wat haar kind verlei het. Sy het Blondie uit die huis gejaag en haar verbied om ooit weer naby haar seun te kom. Buitendien, het sy gesê, wie sê haar seun is die pa van die kind. Blondie is ‘n goedkoop slet en enige ander man kan die pa wees.
Sy was jonk, sy was verslae en het nie geweet wat om te doen nie. Haar ouers was arm en kon nie ‘n prokureer bekostig nie en ook nie die kostes verbonde aan die vaderskap toetse nie. Die doktertjie het wel eendag by haar huis opgedaag en aangebied om ‘n aborsie op haar te doen. Sy het hom geklap dat die spoeg spat en hom toe die deur gewys. Sy het nooit weer van hom gehoor nie.
Trane het oor haar wange geloop en Die Waarnemer het haar in sy arms geneem en haar styf vasgehou.
“Dit is nie al nie,” het sy na ‘n lang stilte gesê. Sy het weer hulle glase vol wyn gemaak en toe meer driftig voort gegaan. Na die kind se geboorte het sy wraak gesweer. Sy het nie omgegee hoeveel huwelike sy verwoes of harte sy in die proses breek nie, sy het mans gehaat, hulle verlei en dan hulle vrouens subtiel ingelig oor hulle mans se ontrouheid. Maar meeste van alles wou sy aan haarself bewys dat sy so sleg was as wat die doktertjie se ma gesê het sy is. Sy het haarself meer gehaat as wat sy hom of enige ander man gehaat het.
Dit het lank geneem voor sy tot besinning gekom het, maar toe was dit reeds te laat. Sy het ‘n reputasie as “maklike” meisie gehad wat sy nooit weer kon afskud nie. Nou flirt sy met mans, lok hulle uit en maak hulle belaglik, veral die orige ouer mans.
Toe bly sy lank stil, staar strak voor haar uit. “Nou weet jy wie en wat ek is. Nou kan jy besluit of jy nog met my vriende wil wees,” sê sy en kyk direk na hom.
Sonder om ‘n woord te sê het hy haar in sy arms geneem en haar styf vasgehou. Sy het saggies gehuil. Hulle het lank so in mekaar se arms bly sit en deernis het soos ‘n kombers oor hom kom lê, toe het hy haar lank en teer gesoen.
“En ek,” het hy sag gevra. “Flirt jy net met my?”
Sy het diep gesug en ‘n glimlag het om haar mondhoeke gespeel terwyl sy haar hand deur sy hare vleg. “Jy is anders. Ek hou van jou,” het sy geantwoord en hom op die wang gesoen en gesê “Nou moet jy gaan slaap, dis laat. Ons vat dit dag vir dag soos dit kom en kyk waarheen dit gaan.”
Toe hy by die deur uit loop het sy vir hom gesê hy moet die Sondag saam met haar na haar ouers toe gaan dan kan hy hulle ontmoet en dan eet hulle daar.
Op kantoor het sy aangehou om met hom en die ander mans te flirt, maar hy was die enigste een wat sy voor al die ander so nou en dan ‘n piksoentjie op die wang gegee het en dan selfvoldaan gestaan en kyk het hoe hy bloedrooi bloos. Sy verleentheid het haar groot plesier verskaf.
Neels die nihilis het hom uitgelag toe Die Waarnemer hom vertel dat hy verlief is op die blonde meisiekind. “Jy’s soos ‘n dom mot om ‘n brandende kers jou swaap, het hy sarkasties gesê. “Ikarus gaan sy f*kn vlerke brand, maar as jy haar seermaak gaan ek jou persoonlik donder,” het hy onverwags driftig gesê en weggeloop.