Thug: Sluipmoordenaar, verwurger.
Ruffian: Skurk, booswig.
Paul Theroux, die befaamde, bekroonde, depressiewe wêreld reisiger (nie John Paul die groot filosoof nie), noem alle polisiemanne in Afrika “nothing more than licensed thugs.” Dus sluipmoordenaars of verwurgers met `n lisensie.
Hier by ons te lande en in ons Moedertaal sou dit dalk meer beskrywend wees om hulle gelisensiëerde skurke of booswigte te noem.
Kry ons laataand op `n Saterdag so `n ligte aanmaning van hoe ver ons al op die pad na anargie gevorder het in hierdie droewe land.
Sit en kyk ons TV toe die honde ons waarsku dat iemand voor ons hek staan. Ma staan op om die honde stil te maak en sien dit is ons gewilde manne in blou wat ons kom besoek. Gelukkig is die hek gesluit en kan hulle nie op die perseel kom nie. (is dit nie droewig dat mens moet sê ‘gelukkig’ kan die polisie nie jou perseel betree nie?)
Hoe ook al, Ma vra wat is die probleem. Maak oop die hek sê man-een-in-blou. Ons kom julle arresteer.
Vir wat wil julle so iets doen, vra Ma erg verbaas.
Julle het iemand raakgery met julle blou Skyline en toe weggejaag, sê man-in-blou nommer twee aggressief. Maak oop die hek.
In die eerste plek, sê Ma nou omgekrap, ons het ons blou Skyline agt jaar gelede al verkoop en die nodige dokumente by die munsipaal ingehandig. Die man aan wie ons die kar verkoop het werk hier straat af by die apteek, loop soek hom. Ek het skriftelike bewys, geteken deur die koper dat hy die kar by ons gekoop het. Ons het net `n wit kar en wit bakkie op die erf, geen blou kar nie.
Maak oop die hek, ek wil jou kar sien, sê man-in-blou nommer een kwaad.
In die tweede plek, sê Ma, waar is jou lasbrief. Jy kom nie op my erf sonder `n lasbrief nie.
Manne met hulle groot skietlus knor; bring jy die bewys van verkoop, ons kom terug met `n lasbrief. Vannaand smyt ons julle altwee in die tronk!
Ek sit rustig voor die TV, weet van niks. Ma storm die huis in, hoogs ontsteld en vertel die storie. Moet die bewys nou kry, hulle kom terug en dan slaap ons in die tronk vannaand.
Ek sê kalmeer. Eerste plek, hoekom roep jy my nie om met die menere te praat nie. In die tweede plek, het jy die afgelope 8 jaar met die blou kar gery? Hoe kan hulle jou in die tronk sit as jy nie die kar bestuur het wat jy 8 jaar gelede reeds verkoop het . Is nie ons probleem nie.
Baie braaf is ek. Ek weet goed die bliksems kan en sal ons in die tronk stop vir die eenvoudige rede dat ons wit is, al het ons niks verkeerd gedoen nie. En dan is die kanse goed dat ten minste een van ons op pad selle toe verkrag gaan word ook nog. Dit het onlangs hier by ons gebeur. Dit het ook gebeur dat `n onskuldige vrou reg voor die polisiekantoor doodgeskiet is deur `n polisieman, een van ons “licensed thugs”.
Maar hulle kom toe nie terug nie. Die volgende dag gaan soek ons die man wat ons kar destyds gekoop het. Sê hy ja, die polisie was by hom en hy het vir hulle gesê hy het die kar lank terug by ons gekoop, maar hy het dit in Desember weer aan iemand anders verkoop.
Nog nie weer van die bose manne-in-blou gehoor nie. Hoop dit bly so.
Die vreemde nadraai van die storie is dat ons huis vir dae lank dopgehou is deur `n vrou wat beweer sy is die een wat in die ongeluk betrokke was. Ons kry haar voor ons hek toe ons met die honde gaan stap. Vra sy of ons by die adres bly. Is glo die adres wat die polisie vir haar gegee het en die polisie doen niks aan die saak nie, nou speel sy self speurder.
Haar storie is dat dit Nigeriërs was wat in die blou Skyline was en hulle het probeer om haar in haar BMW te kaap, en dit is soos sy dit aan die polisie vertel het.
Die vraag is nou, waarom wou hulle ons toesluit as hulle geweet het die mense in die Skyline was almal swart?
Die antwoord is dalk ‘omdat hulle `n lisensie het om te kan doen wat hulle wil’ en dis tragies.



























